Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 23 Desember 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat bekend gemaak word dat Darryll du Rand, ZS6DLD, op 1 Desember 2012 doodgeskiet is.

Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

(POUSE)

SARL-PRESIDENT SE KERSFEESBOODSKAP OP ‘AMATEUR RADIO TODAY’

SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM – OPROEP VIR VOORDRAGTE

SARL ANTENNAVERDEDIGINGSFONDS NOU OOR 50% VAN DIE TEIKEN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SARL-PRESIDENT SE KERSFEESBOODSKAP OP ‘AMATEUR RADIO TODAY’

Vanoggend word die SARL-PRESIDENT se Kers- en Nuwejaarsboodskap op die program ‘Amateur Radio Today’ uitgesaai. Dit is ook vandag in beide geskrewe- en oudioformaat op die SARL-webblad www.sarl.org.za beskikbaar.

In sy Kersboodskap het Rassie Erasmus, ZS1YT, ook gewag gemaak van die feit dat die amateurradiogees ons ‘Ubuntu’ is. Hy het vervolg deur te sę dat toe Paul M. Segal, W9EEA, die Radioamateurkode bekend gestel het, hy ware betekenis aan die bedoeling en betekenis van die amateurradiogees gegee het. “Amateurradio verskaf aan ons daardie wonderlike geleentheid om na ‘n verskeidenheid van persone uit te reik in besonder gedurende hierdie Kers- en Nuwejaarstydvak. Maak een of meer amateurradiokontakte en wens die ander stasie 'n vreugdevolle feestyd toe. Van myself en gesin stuur ons goeie wense vir ‘n baie geseënde Kersfees en ‘n uiters voorspoedige nuwe jaar. Mag die wonder van Kersfees ook u en u familie aanraak. Ek wens u almal 'n Geseënde Kersfees en 'n voorspoedige nuwe jaar toe."

Lees ook die volledige boodskap op www.sarl.org.za.

SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM – OPROEP VIR VOORDRAGTE

Die 2013 SA AMSAT Ruimtesimposium word op Saterdag 18 Mei 2013 by die ‘Innovation Hub’ te Pretoria aangebied. Hierdie is die EERSTE OPROEP vir voordragte. Die tema van die simposium is ‘Satelliete, die nuwe Amateurradiofront’. Indien u beplan om ‘n voordrag aan te bied, stuur asseblief ‘n verkorte resume van die aanbieding na saamsat@sarl.org.za nie later nie as 31 Januarie 2013. Vir nadere besonderhede in hierdie verband besoek www.amsatsa.org.za.

SARL ANTENNAVERDEDIGINGSFONDS NOU MEER AS 50% VAN DIE TEIKEN

Die SARL se Antenna Verdedigingsfonds het die 50% vlak van die R50 000 doelwit verbygesteek. Verlede Vrydag het die fonds op R25 100 gestaan. Radioamateurs EN Klubs het saamgespan vir die SARL se veldtog vir die wysiging van die geboue en soneringsregulasies vir die oprigting van antennaestrukture laer as 15 meter, SONDER om deur die tydrowende prosesse van die aansoek doen vir hersonering en gebouemagtigings te gaan.

Die teiken is om minstens R50 000 in te samel. Hartlike dank aan radioamateurs en klubs wat bydraes tot die fonds gemaak het. Volledige besonderhede aangaande die veldtog, asook ‘n gedetailleerde lys van donateurs, is te vinde op www.sarl.org.za, kies ‘Antenna Defence Fund’ vanaf die linkerhandse spyskaart op die tuisblad.

DIE KLT-OORLOG: ‘DARC’ GAAN STRATEGIESE VERGADERINGS OOR DIE GEVARE HOU

Op Saterdag 12 Januarie 2013 gaan die ‘Deutscher Amateur-Radio-Club’ (DARC) 'n een dag werkswinkel aanbied vir bespreking van moontlike bedreigings vir amateurradio van elektromagnetiese kraglyne. Die werkswinkel sal by die hoofkwartier van die DARC te Baunatal plaasvind. Alle aspekte van kraglyn internettransmissies sal gedek word asook die moontlike invloed op amateurradiowerking. Die SARL hou die situasie fyn dop.

Suid-Afrika beskik oor geen KLT-regulasies nie, alhoewel dit reeds in konsepformaat is. Die konsep kan afgelaai word van www.amateurradio.org.za/PLT Standard Notice.pdf.

SARL-LEDE ONTVANG AFSLAG OP ARRL-BOEKE

Die SA Amateurradio Ontwikkelingstrust beskik oor ‘n groot voorraad van ARRL boeke. Nadere besonderhede is by www.amateurradio.org.za. beskikbaar. Lede van die SARL kwalifiseer vir ‘n afslag. Op die webwerf is daar twee bestelvorms beskikbaar. Die mees gesogte van die 2013 hardebandboeke is die ARRL Handboek en die Antennaboek. Indien beplan word om die Radioamateureksamen in 2013 aan te durf, is die ARRL Basic Radio die aanbevole studieboek.

IARU-NUUS

Twee verenigings het as lede by die IARU aangesluit. Op 1 November 2012 is gestem oor die toelating van die Federasie van Radiosport van Azerbaijan (Voorstel No 247) en St, Vincent & Gredandines Amateurradioklub (Voorstel No 248) as lede van die IARU. Met 53 positiewe stemme benodig vir goedkeuring, was daar 60 stemme ten gunste van Voorstel No 247 en 61 stemme ten gunste van Voorstel No 248. Beide voorstelle is dus aanvaar.

KOMPETISIENUUS

In verlede Sondag se bulletin is berig dat die tweede algehele plek in die PEARS HF DX-kompetisie, gehou op November 2012, verower is deur ZS6PAM. Dit was 'n fout, die tweede plek is in der waarheid verower deur Pam Momberg, ZS6APT. Ons bied groot verskoning aan beide Pam en ZS6PAM. Veels geluk aan Pam, ZS6APT.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot gematig gaan wees. Al drie die sigbare sonvlekke is tans stabiel met geen kans vir groot sonfakkels nie.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 67.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan ook gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
31 Januarie 2013 – Sluitingsdatum vir insending van nominasies vir Raadslede vir die volgende termyn en mosies vir die 2013 AJV.
31 Januarie 2013 - Laaste dag vir indiening van 'n verkorte resume van 'n beoogde aanbieding vir SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM op 18 Mei 2013 na saamsat@sarl.org.za

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geďnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Die SARL-NUUSSPAN wens al ons luisteraars en intekenare 'n geseënde Kersfees en 'n voorspoedige nuwe jaar toe. Ons sal volgende Sondag 30 Desember terug wees met 'n verdere nuusbulletin.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur Arthur Jordaan, ZS1AIJ, en die bulletin is saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE,

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003